
As deel van die gesamentlike seminariumprogram vir residensiële studente van die NGK, VGK en Lutherse Kerk kom ons elke week byeen in byeenkomste wat ons Iziko’s noem. Die Xhosa-woord iziko verwys na ‘n ‘vuurherd’ – ’n plek in die gemeenskap waar mense rondom die vuur sit om warmte te vind, kos te maak en stories te deel. Só wil ons Iziko’s ook wees: ’n ruimte waar ons saam leer, luister, vertel, en mekaar bemoedig in ons geloofsreis.
Nadat daar tydens die vorige kwartale gefokus is op gebed en die doop, word dié liturgiese samekomste hierdie kwartaal ingerig rondom die tema van die Woord, met die volgende in gedagte:
Ons bely dat God Drie-enig, wat die heelal en alles daarin gemaak het, Homself aan ons openbaar – bowenal deur die Skrif wat getuig van Christus, die Woord wat vlees geword het.
As gelowiges word ons dus geroep om onder die Woord te lewe, om voortdurend ontvanklik te wees om – met die Gees wat ons lei te ontvang wat God vir ons en die wêreld sê.
Soos wat ons onderskeidend luister, word ons ook geroep om – in antwoord op God se Woord – self te spreek: om te bely wat ons in die Woord gehoor het, en die Goeie Nuus van die Evangelie te verkondig.
Hierdie kwartaal dink ons dus na oor:
Hoe daar gedink word oor prediking en ander geleenthede waar daar saam met ander om die Woord vergader word. Wat dit beteken om onderskeidend na God te luister; ons omgang met die Bybel; die lees van die Skrif as persoonlike geloofsdissipline; die Bybel as lens waardeur ons onsself en die wêreld sien en verstaan; die aard van belydenis as persoonlike én gemeenskaplike antwoord op, en weer-sê van, dit wat ons in die Skrif gehoor het; die ekumeniese belydenisskrifte en drie formuliere van eenheid.
Ons sien uit om saam hierdie kwartaal te reis!

