Geroep – Gevorm – Gestuur
Ons glo dat, soos die Drie-enige God mense deur die eeue geroep het, God steeds vandag só maak. Daarom is dit vir ons ’n vreugde en ’n passie om – saam met ons akademiese en kerklike vennote – betrokke te wees by die opleiding en begeleiding van voornemende predikante, diensleraars, bedienaars en standplaasleraars, en om saam met hul hierdie pad van roeping, vorming en gestuurdheid te stap.
As deel van – en in noue samewerking met – die NG Kerk se Algemene Kuratorium (AK), werk ons saam met ander kuratoria en sinodes om die opleidingsraamwerk wat deur die AK vasgestel is, te implementeer. Hierdie raamwerk behels beide uitstekende akademiese opleiding deur ons akademiese vennote en holistiese kerklike vorming, wat in ons sinodale gebied deur die Seminarium geskied. Vir meer inligting, raadpleeg gerus die AK se dokument Geroep, Gevormd, Gestuur.
Bane van Bediening
Predikante (Vol leraars)
Predikante is gelegitimeerde leraars – met gevorderde teologiese en kerklike opleiding (tot op Meestersgraadvlak) – wat die volle opdrag van gemeentebediening en -leierskap verrig. Ná hulle akademiese en kerklike opleiding word hulle met proponentsbevoegdheid gelegitimeer, waarna hulle beroepbaar is en met volle predikantsbevoegdheid bevestig kan word.
Diensleraars
Diensleraars is gelegitimeerde leraars – met basiese teologiese en kerklike opleiding (tot op Baccalaureus- of Honneursvlak) – wat in ’n spesifieke bedieningsarea binne die gemeente en gemeenskap, saam met en onder leiding van die gemeentepredikant, werksaam is. Na afloop van hulle akademiese en kerklike opleiding word hulle as kandidaat-diensleraars gelegitimeer. Hulle is dan beroepbaar na gemeentes waar hulle bevestig word met ’n toegespitste bedieningsfokus.
Bedienaars (Kerkraadslede met Bedieningsbevoegdheid)
Bedienaars is kerkraadslede – met inleidende teologiese en kerklike opleiding (tot op die vlak ‘n kerkgeakkrediteerde sertifikaat in teologie) wat die bevoegdheid ontvang om bedieningstake te verrig in samewerking met en onder die mentorskap van gemeentepredikante. Bedienaars word nie gelegitimeer nie en het dus nie sakramentsbevoegdheid nie. Hulle word gewoonlik nie vir hul bedieningswerk besoldig nie.
Standplaasleraars
Standplaasleraars is gelegitimeerde leraars wat opgelei word vir en werksaam is in ‘n spesifieke kontektuele bedieningsveld (bv. dowebedining).
Ons akademiese vennote
Universiteit van Stellenbosch